TuisOpDissiplinêre StelselTugmaatreëlsInsidenteregister

 
Opgedateer: 2 Februarie 2023

    

 

 

Privaatskool Amajuba vir CVO: Tugmaatreëls

Openlike teregwysing is beter as verborge liefde.
Spreuke 27:5

Tugmaatreëls

2.1 Agtergrond

Met die afskaffing van lyfstraf, moes skole 'n werkbare alternatief vind vir die handhawing van dissipline. Gesien in die lig dat skole toenemend voor die hof gedaag word oor die hantering van insidente, is daar by PRIVAATSKOOL AMAJUBA vir CVO besluit om van 'n kategoriestelsel gebruik te maak. Die reëls van die skool is in drie kategorieë ingedeel, wat dan ook die straf vir sekere oortredings bepaal.

2.2 Tipe oortredings

Die oortredings in die kategorieë word dan soos volg uiteengesit:

Kategorie 1- oortredings
   
Laatkom
   
Huiswerk nie voltooi
   
Werkopdragte/take nie ingehandig
   
Toetse nie geteken
   
Handboek/ skrif/ dagboek nie by skool
   
Ontwrigtend in klas
   
Ongedissiplineerde optrede tydens wyding/ klaswisseling
   
Rommelstrooi
   
Verlaat klaskamer sonder toestemming
   
Kou van kougom
   
Speel in kleedkamers
   
Sportklere nie by skool vir sportperiode
   
Speelgoed of selfone by skool sonder skriftelike toestemming
   
Enige oortreding van skoolreëls 1-14 of voorkomsreëls
   

 

Kategorie 2- oortredings
   
Huiswerk herhaaldelik nie gedoen
   
Afskryf van huiswerk
   
Arrogansie, onbeleefdheid, ongehoorsaamheid of oneerlikheid
   
Weerhouding van ander leerlinge se reg tot onderrig
   
Verbale bedreiging van ander persoon se veiligheid
   
Swak gedrag teenoor medeleerlinge, personeel of besoekers
   
Afknouery/ boeliegedrag/ teistering of intimidasie
   
Bakleiery op skoolterrein
   
Beskadiging of wegsteek van 'n ander se tasse/besittings
   
Beskadiging van of graffiti op skooleiendom of -terrein
   
Enige herhaaldelike oortreding van skoolreëls 1-14 of voorkomsreëls
   

 

Kategorie 3- oortredings
   
Ernstige aggressiewe gedrag/ aanranding
   
Ernstige ontwrigtende gedrag
   
Onsedelike gedrag
   
Intimidasie
   
Vandalisme/ saakbeskadiging
   
Rook op skoolterrein
   
Gebruik/ besit/ smous van alkohol/ dwelms of narkotiese middels
   
Besit van en dreig met gevaarlike wapens/ voorwerpe wat ernstige liggaamlike beserings of psigiese leed kan veroorsaak
   
Besit van pornografiese materiaal
   
Vervalsing van handtekeninge/ dokumente
   
Oneerlikheid tydens toetse of eksamens
   
Diefstal
   
Afwesig uit skool sonder ouers se toestemming


2.3 Toepassing

Toepaslike tugmaatreëls sal slegs deur opvoeders, hoof, opvoedingsraad of 'n komitee van die opvoedingsraad toegepas word.

Ouers van leerlinge wat oortree sal, sover prakties moontlik, op hoogte van sake gehou word.

Toepassing van enige tugmaatreël sal te alle tye sensitief en in 'n gees van goedgesindheid, liefde en ondersteuning plaasvind. Die lewensfase waarbinne die leerling hom of haar bevind, sy of haar fisiese en psigiese toestand en erkende opvoedkundige beginsels sal deurgaans prioriteit geniet;

Sover dit prakties moontlik is, sal die proses wat op 'n beweerde oortreding volg, nie in die teenwoordigheid van ander leerlinge of opvoeders wat nie by die aangeleentheid betrokke is nie, plaasvind nie;

Die oplegging van straf sal altyd aan die vereistes van deursigtigheid, billikheid, regverdigheid en redelikheid voldoen en sal by die aard van die oortreding pas;

Geen straf sal opgelê word sonder dat daar behoorlik ondersoek na al die omstandighede wat tot die voorval aanleiding gegee het, ingestel is nie.

2.4 Strafmaatreëls

2.4.1 Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 1-reëls

Wanneer 'n leerling 'n kategorie 1-reël oortree en die persoon, belas met die ondersoek na die oortreding, van oordeel is dat die oortreding nie ernstig van aard is nie, kan daardie opvoeder die leerling berispe of hom of haar 'n mondelinge waarskuwing gee of 'n skriftelike waarskuwing in swart.

Waar die persoon belas met die ondersoek na die oortreding oordeel dat die voorval 'n inskrywing in die leerling se insidenteregister regverdig, word die voorval in swart, in die register aangeteken.

Indien 'n inskrywing gegee is, kan die persoon belas met die ondersoek na die oortreding nie die inskrywing wysig of terugtrek nie. Na 2 aantekenings of waarskuwings in swart, volg 'n inskrywing in rooi. Die leerling sowel as die ouer moet hierby teken.

Indien 'n leerling drie inskrywings in rooi ontvang, kwalifiseer die leerling vir 'n pousedetensie. Sodanige detensie sal gedurende tweede pouse op Maandae en Vrydae in die saal plaasvind.

Sodra 'n leerling 'n derde inskrywing vir 'n pousedetensie kry, is 'n Woensdagmiddagdetensie van toepassing.  Die ouer(s) sal skriftelik deur die klasvoog in kennis gestel word waar en wanneer die detensie sal plaasvind.  Skriftelike redes vir sodanige detensie sal ook aan die ouer(s) deurgegee word. Indien 'n leerling hom of haar na sodanige Woensdagmiddagdetensie weer aan vier rooi kategorie-1-oortredings skuldig maak, sal daar 'n onderhoud tussen die hoof, voogonderwyser, die leerling en sy of haar ouer(s) gereël word.  Tydens sodanige onderhoud sal die betrokke oortreding, vorige oortredings en gepaste dissiplinêre maatreëls bespreek word.

Herhaalde Oortreders

Indien 'n leerling drie Woensdagdetensies deur die jaar moes sit, mag hy/sy nie op uitstappies gaan nie. Omdat leiers 'n voorbeeld moet stel, word leerlinge van graad 6, wat hulle gedurende die jaar aan erge wangedrag skuldig gemaak het, nie vir verkiesing oorweeg nie. Die insidentregisters word hier as maatstaf gebruik. As 'n leerling vyf (5) Woensdagdetensies moes sit, word die meriete van sy of haar nominasie in heroorweging geneem.

2.4.2 Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 2-reëls

Die straf vir die oortreding van enige kategorie 2-reël is 'n summiere Woensdagmiddagdetensie.

Die persoon belas met die ondersoek sal, indien hy of sy oortuig is dat die leerling skuldig is aan die betrokke oortreding, 'n inskrywing in daardie leerling se insidenteregister maak.

Die ouer(s) sal skriftelik deur die klasvoog in kennis gestel word waar en wanneer die detensie sal plaasvind.  Die redes vir sodanige detensie sal ook aan die ouer(s) deurgegee word.

Indien 'n leerling hom of haar na sodanige Woensdagmiddagdetensie weer aan 'n kategorie 2-oortreding skuldig maak, sal daar 'n onderhoud tussen die hoof, voogonderwyser en die leerling en sy of haar ouer(s) gereël word. Tydens sodanige onderhoud sal die betrokke oortreding, vorige oortredings en gepaste dissiplinêre maatreëls bespreek word.

2.4.3 Hantering/optrede ten opsigte van oortreding van Kategorie 3-reëls

Indien 'n leerling hom of haar aan 'n kategorie 3-oortreding skuldig maak, sal daar 'n onderhoud tussen die Hoof, OR Voorsitter/Ondervoorsitter en die leerling en sy of haar ouer(s) gereël word.

Indien 'n ander leerling of persoon deur die optrede van die leerling benadeel is, kan daardie leerling en sy of haar ouer(s) of ander persoon ook versoek word om by die onderhoud teenwoordig te wees.

Tydens die onderhoud sal die oortreding ondersoek word en sal daar van die betrokke leerling en sy of haar ouer(s) verwag word om in oorleg met die dissiplinêre komitee, gepaste dissiplinêre maatreëls voor te stel.

In gepaste gevalle kan daar, aanvullend tot die voorgestelde dissiplinêre maatreëls, ook oorweeg word om die leerling onder die toesig van 'n mentor te plaas en/of die leerling op koste van die ouer(s) vir terapie of ander remediërende aksie te verwys. Die dissiplinêre komitee sal, na ondersoek van die aangeleentheid en met inagneming van die ouer(s) se voorstel en alle ander relevante feite, op gepaste dissiplinêre en ander maatreëls besluit.

Daar sal van die ouer(s) van die leerling wat oortree het, verwag word om skriftelik tot bevrediging van al die partye te onderneem om aan die dissiplinêre en ander stappe waarop besluit is, gehoor te gee.

Uitsetting kan hier ter sprake kom.

Skorsing

Indien 'n leerling hom of haar aan die oortreding van 'n kategorie 3-reël of voortdurend aan wangedrag skuldig maak, kan hy of sy geskors word. Die tydperk van die skorsing kan wissel van een onderrigperiode, 'n skooldag of selfs langer.

Die opvoedingsraad, sal met inagneming van alle relevante wetgewing en beleidsvoorskrifte, verantwoordelik wees om die saak deeglik te ondersoek voordat skorsing plaasvind.

In alle gevalle waar skorsing oorweeg word, sal die betrokke leerling en sy of haar ouer(s) skriftelik van die prosedure wat gevolg moet word en hulle regte, in kennis gestel word.

Leerlinge wat werk as gevolg van skorsing misloop, is self verantwoordelik om die werk in te haal of te voltooi.

Uitsetting

Indien 'n leerling hom of haar aan die oortreding van 'n kategorie 3-reël skuldig maak of wanneer 'n oortreding of reeks oortredings die uitsetting van 'n leerling regverdig, kan uitsetting oorweeg word.

Die aangeleentheid sal ooreenkomstig die relevante wetgewing en beleidsvoorskrifte hanteer word.

In alle gevalle waar uitsetting oorweeg word, sal die betrokke leerling en sy of haar ouer(s) skriftelik van die prosedure wat gevolg moet word en hulle regte, in kennis gestel word.

Indien 'n leierleerling herhaaldelik probleme ondervind met 'n leerling, moet die volgende stappe gevolg word:

Die leierleerling moet die leerling na die lg. se klasvoog neem, wat dan aandag aan die saak sal gee. Indien die klasvoog nie die probleem kan oplos nie, moet dit na die Hoof verwys word. As die probleem nog bestaan, word dit dan verwys na die Opvoedingsraad.

Appèlprosedure

Enige leerling of sy of haar ouer(s) het die reg om teen enige bevindinge en/of straf te appelleer.  Alle appèlle word deur 'n arbiter hanteer. Die arbiter sal alle appèlle fasiliteer in samewerking met die persone of instansies soos hieronder uiteengesit.
Die skoolhoof sal as koördineerder optree.

Die skoolhoof kan die Hersieningsraad soos benodig, na gelang van die erns van die oortreding, uit die persone of instansies soos hieronder saamstel.

Klasvoog
Graadvoog
Hoof
Opvoedingsraad  

Die Opvoedingsraad het die gesag om die besluit finaal te hersien, bevestig of te verander na gelang van die omstandighede.

Indien daar 'n dispuut oor die die Hersieningsraad se besluit is, kan die saak na die BCVO verwys word vir oorweging. Die saak sal dan verder deur die BCVO hanteer word.

Die Hersieningsraad se besluite moet te alle tye die waardes en reëls soos in hierdie dokument reflekteer.

Behoudens enige statutêre vereistes, kan die persoon na wie geappelleer word, vereis dat die appèl op skrif gestel word.

 

 

 

Tuis
Op
Dissiplinêre Stelsel
Tugmaatreëls
Insidenteregister


 

TuisOpDissiplinêre StelselTugmaatreëlsInsidenteregister

Privaatskool Amajuba vir CVO Nie Winsgewende Organisasie : NPO nr 153-306

ARK Web Design * ARK Webontwerp

ARK Webontwerp sedert 1998
ARK Web Design since 1998

arkpark.info

Kaleidoskoop

Voetspore

Swallow Software

Swallow Software

ADSA Advertensies

 ARK Web Design © 2023
ARK Webontwerp © 2023

Bekering
Bekering

Bybelteks

'n Christen…


Majuba Monument

De Camp Courant